2010-8-2
 Biscuit in Leeukleure - Foto: Deon van der Merwe Die Griekwas wil vanjaar met ‘n Biscuit in sy geledere ‘n groot hap uit die Curriebekerkoek neem. Die Leeuflank Johan van Deventer het hom Maandag in Kimberley aangesluit en kan reeds Saterdag sy buiging vir die Poubloues teen die Westelike Provinsie maak.
Van Deventer, wat as Biscuit bekend is, is ‘n skitterende oopkant-balsteler wat om onverklaarbare redes nie tans deur die Leeus-afrigtingspan gekies word nie.
Die oud-Monna het Suid-Afrika op junior vlak verteenwoordig en het al Super 14-rugby gespeel waarin hy geskitter het. Met die nuwe reëls is iemand soos Van Deventer gewis meer werd as van die ander Leeu-losvoorspelers.
Maar die Leeus se verlies is die Griekwas se wins en in tandem met Wesley Wilkins en een van Davon Raubenheimer, Leon Karemaker of Gerhard Human het die Griekwas baie diepte in die posisie.
Griekwas se spelbrekers soos Sarel Pretorius, Naas Olivier en Bjorn Basson maak op die oomblik die verskil, maar die ander spelers moet ook paartie toe kom.
Olivier en sy manne kan ook nie weer soos in elke wedstryd vanjaar op ‘n tweedehelfte-vertoning staatmaak om die wa deur die drif te trek nie. |