2010-2-4
Balie wys Luiperds hoe
Balie Swart en Luiperds.JPG

Balie Swart, oud-Springbok en Leeu-stut, het vandeesweek die sweep by die Platinum Luiperds se oefening geklap waar hy nie geskroom het om te raas, te skrum en woes te beduie nie.

Sowat 40 provinsiale, skole- en klubafrigters van Noordwes het almal bymekaargekom om Swart se afrigtingsessie van veilige skrumwerk by te woon.

Hy het nie doekies omgedraai nie en hard gepraat oor die fynere nuanses van voorryspel en later op die veld nie geskroom om self in te spring en te demonstreer wat hy bedoel nie. As hy nie tevrede was met liggaamsposisies nie, is manne sommer vinnig teen die kop getik om presies te wys wat hy soek.

Die Luiperds se stutte Divan Kotze, Os van der Walt, Nardus Lombard en Philip Lemmer, sowel as die twee hakers Gavin Williamson en Pellow van der Westhuizen ,is soos karperde met rekke ingespan terwyl Swart hulle deur hul passies gevat het.

Swart word deur SA Rugby aangewend om by al die provinsies uit te kom en te kyk dat die regte tegnieke aangeleer word met die oog op veiligheid. Hy het baie klem gelê op die krag van die midrif, wat dikwels in oefeninge afgeskeep word.

Die Platinum Luiperds se Bom Samaai kry Vrydagaand die strop om die nek en wanneer hy by die paadjie afstap om trou te sweer is sy spanmaats pas klaar met hul wedstryd teen die Leeus op Witbank en reeds weer oppad na ‘n spanbou-aksie.

Groot dinge word vanjaar van dié sterkgeboude spoedvraat verwag en terwyl hy verlede jaar al sy rugby op vleuel gespeel het en menige groot name na lug laat gryp het, is dit op senter waar afrigter Chaka Willemse glo sy heil lê.

Maar die Luiperds sal nog ‘n week moet wag om Samaai in die middelveld los te laat en intussen word een van die nuwelinge, Dumisane Matyeshana saam met Japie Nel as senterpaar ingespan. Matyeshana is oud-Potchefstromer wat voorheen vir die Puk gespeel het maar verlede jaar Curriebeker-rugby vir die Grens gespeel het.

Die Luiperds speel om 16:30 in ‘n voorwedstryd teen die Leeus se B-span waarna die Pumas die Leeus se A-span om 18:30 aandurf.

Luiperds vs Leeus: Jan van Zyl; Deon Scholtz, Dumisane Matyeshana, Japie Nel, Gharfoer Luckan; Clayton Durand, Jean Tiedt; Riaan Swanepoel, Wilhelm Koch ©, Christo van Niekerk, Anthonie Gronum, Ligtoring Landman, Os van der Walt, Gavin Williamson, Divan Kotze.