2010-3-13
 Jacquin Jansen pass Die Boland moes Saterdag in Saldanha diep delf om die Arende in ‘n emosiebelaaide wedstryd in die Vodacombeker-reeks net-net 25-24 te klop.
Net soos die Bolandse afrigter Eugene Eloff voorspel het, het die Arende met alles en nog wat gekom in hierdie buurstryd.
“Na al hul probleme die laaste tyd het hulle vir trots gespeel, en dit het hulle behoorlik gedoen. Dit was ‘n klipharde wedstryd in ‘n stormsterk-wind wat niemand bevoordeel het nie,” het Eloff gesê
Die Bolanders se dissipline het hulle in die steek gelaat en twee van hul spelers is met geelkaarte afgestuur wat beteken het hulle was vir 20 minute lank net 14 spelers op die veld.
Willie le Roux, wat vir Dean Grant op losskakel ingestaan het, het meer as genoeg gedoen om Eloff te laat glimlag terwyl Ashton Constant ‘n vuurvreter was teen sy voormalige spanmaats uit George.
Die Arende kon die wedstryd in die doodsnikke besklink indien Eric Zana in die wind met ‘n doelskop kon slaag nadat die kaptein Wayne Bennett ‘n dryfdrie ná ‘n lynstaan gedruk het.
Volgens Eloff het sy span dit terdeë geniet om die spel platteland toe te neem en die ondersteuning in Bredasdorp én Saldanha was ‘n riem onder hart, maar hulle sien uit om die Pampas die naweek in Wellington te pak.
Punte:
Boland: Drieë: Willie le Roux, Zandré Jordaan, Hyron Thyse. Doelskoppe: Jacquin Jansen (2). Strafdoele: Jansen (2).
Arende: Drieë: Shaun Raubenheimer, Wayne Bennett. Doelskoppe: Jandré Blom. Strafdoele: Blom (3), Eric Zana. |