2010-3-2
Bondesio begin teen Welwitchias
Michael Bondesio val aan teen Cheetahs

Die Luiperds se nommer-een-skrumskakel Michael Bondesio is terug in die tuig en sal Vrydagaand op Olënpark teen die Welwitchias begin in een van drie veranderinge aan die span.

Bondesio het teen die Leeus ‘n reuse verskil gemaak toe hy speelkans kry en hy vervang Jean Tiedt in die beginspan.

Die ander veranderings is op linkervleuel waar Dumisani Matyeshana ook sy kans teen die Leeus aangegryp het en die talentvolle Bom Samaai vervang. Samaai is sy plek in die 22-tal kwyt.

Die derde verandering is op binnesenter waar Basil de Doncker in Japie Nel, wat ‘n bloedklont in sy been het, se plek speel.

Die afrigter, Chaka Willemse, het besluit om sy nommer-een-losskakel Clayton Durand nog ‘n week te rus en Marcel du Toit begin weer op tien met Neill Jacobs op die bank.

Philip Lemmer is ook weer fiks en reg om te speel maar word ook eerder nog ‘n week se ruskans gegee. Met die drie veranderinge aan die agterlyn is besluit om die agttal weer net so te kies.

Die heelagter Russell Jeacocks is terug van ‘n besering af en begin van die bank af.

Jan van Zyl was Saterdag skitterend op heelagter, wat duidelik sy beste posisie is en Jeacocks kan dalk speelkans op tien of selfs in die middelveld kry.

Luiperds vs. Namibië: Jan van Zyl; Deon Scholtz, Jovan Bowles, Basil de Doncker, Dumisani Matyeshana; Marcel du Toit, Michael Bondesio; Riaan Swanepoel, Wilhelm Koch ©, Christo van Niekerk, Anthonie Gronum, Ligtoring Landman, Os van der Walt, Gavin Williamson, Divan Kotzé. Reserwes: Pellow van der Westhuizen, Nardus Lombard, Gys Briedenhann, RW Kember, Jean Tiedt, Russell Jeacocks, Neill Jacobs.