2010-3-13
 Herkie Kruger Leeus Vdacom.JPG Die Blou Bulle se Vodacomspan is die enigste onoorwonne span in die noorde nadat hulle die Leeus Saterdag 27-22 in die Bill Jardine-stadion geklop het.
Sukses kweek sukses en die Bulle weet, soos hul ouboet die Bulls, hoe om te wen. Hoewel Nico Luus en die res van die agttal die Bulle voor geboelie het, het die Bloues hul neuse deurentyd voor gehou.
Die Bulle was na ‘n kwartier se spel na twee vroeë drieë reeds 14-0 voor en daarna moes die Leeus opvangrugby speel. Die kere wat Herkie Kruger se skoen hulle binne trefafstand gekry het, het Francois Brummer se skoen ook gepraat.
Na die aanvanklike blitz het Kruger met twee strafdoele geslaag om die Leeus met rustyd op 14-6 in die prentjie te hou en kort na rustyd was dit 14-9.
‘n Strafdoel deur Kruger (44e minuut), een deur Brummer (50e), weer Kruger (52e), weer Brummer (55) en wéér Kruger (59e) het die eerste 20 minute van die tweede helfte oorheers.
Toe Dries van Schalkwyk in die 64e minuut sy tweede drie druk was die koeël deur die kerk vir die Leeus en Hans van Dyk se drie was ‘n klein troosprys vir ‘n bonuspunt.
*Die Leeus moes kort voor rustyd twee spelers weens beserings vervang. Chris Jonck het vermoedelik harsingskudding en Wayne Swart het sy skouer beseer. In Lawrence Sephaka het die Leeus gelukkig ‘n meer as waardige plaasvervanger.
Punte:
Blou Bulle: Drieë: Dries van Schalkwyk (2), Devin Oosthuizen, Doelskoppe: Francois Brummer (3). Strafdoele: Brummer (2), Marnitz Boshoff.
Leeus: Drie: Hans van Dyk. Doelskop: Herkie Kruger. Strafdoele: Kruger (5). |