2010-3-13
Blouste Blou nog
Shadow van den Heever soos 'n skadu deur die Highlanders. - Foto: Backpagepix

Is dit die beste Blou Bulspan van alle tye? Miskien nie. Speel hulle egter die beste rugby? Waarskynlik. In elk geval met tye Saterdag op Loftus het dit weer gelyk asof die Blou-masjien onkeerbaar is in hul oorwinning van 50-35 oor die Highlanders.

In die eerste kwartier, voor die span deur beserings ontwrig is, was dit subliemBlou, met drie drieë wat die Highlanders geskok het en op 21-0 was nog ‘n slagting op hande.

Watter Blouspan het al drieë gedruk net wanneer hulle wou? Nie baie nie.

Daar was egter al beter agttalle en ‘n beter vaste vyf, en waarskynlik in die meeste posisies al beter spelers, maar dit is die eerste keer lekker om die Blou-masjien in aksie te sien.

Victor Matfield se span was na Gurthro Steenkamp se vertrek minder effektief in die skrums en hulle het met tye konsentrasie verloor, veral na ‘n rustydvoorsprong van 36-14.

Die Bulls is egter met ‘n wedstryd in hand heel voor op die Super 14-punteleer en het byna in elke wedstryd 50 punte aangeteken. Toegegee, hulle staan ook te veel punte af, maar dit kom met die spelpatroon.

Teen die Vrystaat was dit 51, teen die Brumbies 50, teen die Waratahs 48 en die Highlanders nou weer 50. Klink of hulle tevrede is met 50. Met so ‘n begin soos Saterdag moes hulle die teenstanders groot gegee het.

Maar kyk ook na die tellings teen hulle. Die Cheetahs 34, Brumbies 32, Waratahs 28 en Highlanders 35. Dit skets ook ‘n duidelike patroon.

Die puris sal daarteen stry, maar Fourie du Preez gaan nie deur ‘n goue tydperk nie, en indien sy opsies beter is en sy hardlopers beter wegkry, kan die telbord vinniger omklik.

En het die Bulle die Highlanders se vyftien Israel Dagg in hul geledere gehad was daar ‘n slagting. Wanneer laas het eimand in ‘n verloorspan drie drieë gedruk?

Pierre Spies het twee keer gedruk, maar word te veel in kontaksituasies en te min in spasie gebruik en Francois Hougaard is tans waarskynlik die beste skrumskakel.

Maar Gerhard van den Heever verdien ook lof vir waarskynlik die beste individuele drie van die seisoen.

Geluk aan Frans Ludeke en Pieter Rossouw. Julle name sal saam met die grotes in Bulls-anale opgeteken word!

Punte:

Bulls: Drieë: Pierre Spies (2), Francois Hougaard (2), Gary Botha, Gerhard van den Heever, Wynand Olivier. Doelskoppe: Morné Steyn (6). Strafdoel: Steyn.

Highlanders: Drieë: Israel Dagg (3), Robbie Robertson, Tim Boys. Doelskoppe: Matt Berquist (3), Dagg (2).