2010-7-9
 John Mametsa druk een sy twee drieë - Foto: Gallo Images Die Blou Bulle het die Pumas Vrydagaand op Loftus Versfeld met ‘n blitzkrieg van vyf drieë in die eerste 23 minute in die Curriebekerreeks verwelkom om uiteindelik 38-15 te wen.
Na daardie verwelkoming het die Grystruie uit die Steenkoolvelde egter vuur gemaak en dit was 45 minute voordat die Bulle weer ‘n drie danksy ‘n dryfmaal kon druk.
Die Pumas het na die openingsalvo waarin die Bulle absoluut op hul foute geteer het, hul voete in die wêreld van Curriebekerrugby gevind en vir die volgende amper 60 minute die meeste speelwerk gedoen.
Die Pumas was aanvanklik eerste op die telbord danksy ‘n strafdoel deur Ricardo Croy, maar toe bars alle hel los. John Mametsa en Stefan Watermeyer druk tussen hulle drie drieë in die volgende agt minute en na ‘n tussenpose van sowat tien minute druk Dean Greyling en Stephan Dippenaar binne minute van mekaar.
‘n Slagting was op hande.
Maar toe begin die Pumas kole gooi en die skrumskakel Tian Meyer het voor rustyd onder die pale gedruk om die Pumas in die Curriebekerreeks aan te kondig.
Die Grystruie was hoe later hoe kwater en veral toe Jacques Coetzee speelkans kry en hy spoed op die bal sit en Ricardo Croy op die voorvoet kry, toe begin die Pumas spoed vang.
Groot Ronnie Uys het die Grystruie gereeld vorentoe gevat en Doppies le Roux en later Alistair Kettledas het groot impak gemaak.
Met die eerste een agter die rug en met die kiesproses vorentoe makliker, kan die Pumas net beter doen.
En die Bulle? Hulle sal styf duimvashou dat hul generaal, Jacques-Louis Potgieter, wat in daardie openingsalvos briljant was, sy skouerbesering kan afskud wat hom gedwing het om die veld te verlaat.
Punte:
Blou Bulle: Drieë: John Mametsa (2), Wouter Watermeyer, Stephan Dippenaar, Dean Greyling, Deon Stegmann. Doelskoppe: Jacques-Louis Potgieter (3), Francois Brummer.
Pumas: Drieë: Tian Meyer, Alistair Kettledas. Doelskop: Ricardo Croy. Strafdoel: Croy. |