2010-3-13
Een uit tien vir Sharks
Jean Deysel teen Brumbies

Een uit tien. Dit is die Sharks se rekord in die Super 14 nadat hulle Saterdagoggend in Canberra weer naelskraap 24-22 teen die Brumbies verloor het. Vanjaar is dit nul en vyf en dit was hul sewende agtereenvolgende nederlaag.

Sedert die Cheetahs hulle verlede jaar 31-6 in Bloemfontein kous-oor-die-kop terug Durban toe gestuur het kon die Sharks nog net een tuiswedstryd teen die Highlanders wen.

Van die afgelope 15 kon hulle net vier wen en sake het verlede jaar in Brisbane begin skeef loop toe die Reds hulle verras het. Daarna het hulle teen die Force verloor, die Brumbies en Hurricanes in Durban geklop voor die treurmare teen die Cheetahs.

Die keer het die Sharks darem nie soos ‘n verloorspan gespeel nie en om die Aussies op tuisbodem met hul eie beamptes te klop is amper ‘n onbegonne taak.

Vir ‘n slag het Ruan Pienaar weer soos ‘n Springbok gespeel en miskien maak dit sin om hom permanent skrumskakel te speel. Hy het ook hul enigste drie gedruk – ongelukkig net hul vierde in vyf wedstryde.

En die Engelsman Andy Goode was sy ponde werd met ‘n skopskoen wat vir niks verkeerd gestaan het nie.

Maar Ryan Kankowski het ongelukig nie paartie toe gekom nie. Die eksplosiewe agtsteman se hande het hom in die steek gelaat, veral wanneer die kontaksituasies warm geword het.

Hy hou nou maar eenmaal eerder van baie meer spasie.

Die Sharks se durf kan nie bevraagteken word nie, maar hul vermoë om drieë te druk wel.

Odwa Ndungane het in die laaste wedstryd van die jaar teen die Bulls wel ‘n drie gedruk, maar dit was die enigste vleueldrie in die laaste tien.

Miskien sê dit iets van hul binne-agterspelers en ook van Stefan Terblanche, wat soos Kankowski nie ‘n gelukkige dag beleef het nie. Oor 15 dae is dit presies ‘n jaar sedert hy sy laaste drie – teen die Brumbies – gedruk het.

Punte:

Brumbies: Drieë: Ben Alexander (2). Doelskop: Matt Giteau. Strafdoele: Giteau (4).

Sharks: Drie: Ruan Pienaar. Doelskop: Andy Goode. Strafdoele: Goode (5).