2010-4-16
 RW Kember van skop met Joe Pietersen by Een enkele drie, en vier punte verskil. Dit was die verskil tussen die Luiperds en die Pumas na sewe wedstryde in die Vodacomreeks nadat die twee spanne die rondomtalie-kompetisie met presies dieselfde aantal ligapunte afgesluit het. Die punteverskil van vier punte in die Luiperds se oorwinning van 33-29 het hulle met ‘n haarbreedte laat deurdring.
Meer spanningsvol kon dit nie wees nie. Toe speeltyd verby is, is ‘n strafskop aan die Luiperds toegeken vyf treë van die Puma-doellyn af en daar is besluit Cecil Dumont, wat 18 punte aangeteken het, moet pale toe aanlê. Was dit oor, was geen permutasies nodig nie.
Die spanne het langer as tien minute in kringetjies op die veld gebly terwyl klarigheid oor die kompetisiereëls verkry is. Daar is aanvanklik gedink dat albei spanne op ‘n punteverskil van 81 geëindig het en dat die Luiperds se enkele drie meer in die kompetisie hulle laat deurdring het.
Die logpunte was gelykop 21 elk. Die punteverskil was egter 81 vir die Luiperds en 77 vir die Pumas. Dit was die beslissende faktor.
Hoe gelykop die twee spanne vanjaar was, word ook weerspieël deur die aantal drieë in die kompetisie. Tot Vrydagaand was dit gelykop 30-elk.
Twee drieë deur Bom Samaai, wat die wedstryd wankelrig begin het, maar soos ‘n kampioen geëindig het, een deur Deon Scholtz en Dumont se 18 punte was genoeg vir die Luiperds om deur te dring.
Die Pumas het die eerste en laaste drieë in die wedstryd gedruk. Eers deur Braam Pretorius wat die Pumas gehelp het om in ‘n stadium 13-3 voor te loop en die laaste een wat al die opwinding veroorsaak het, deur Jaco Bouwer, wat die toernooi as die voorste driedrukker afgesluit het.
Die Luiperds se beter kondisionering het hulle gehelp om die agterstand in te haal en in ‘n stadium 30-19 voor te loop, maar die twee stelskoppers, Cecil Dumont en Ricardo Croy, het die een na die ander strafskoppe en skepdoele geruil.
Dumont het 18 punte aangeteken en Croy 19, wat ‘n skepdoel vir elkeen ingesluit het. Hy het met nog ‘n skepdoel geslaag, wat gekanselleer is na ‘n laatvat op Mike Bondesio. Dit ook het ‘n groot invloed op die finale uitslag gehad.
Die Luiperds se agttal het onder die spreekwoordelike kombers gejag en hulle het treë voor die Pumas by die afbreekpunte opgedaag. Rynard Landman en RW Kember het soos ligtorings bo die res uitgetoorn en Wilhelm Koch en die nuweling Danie Crous het ongenadiglik bly jag.
Van die Pumas se skrumoorheersing het niks gekom nie, hoewel hulle veral in die eerste helfte danksy Marius Coetzer in die lynstane baas was.
Daar was ook ander helde in die Luiperdspan. Sonder Mike Bondesio sou hulle nie wen nie. Sy breekslag wat tot Deon Scholtz se drie gelei het, was skitterend.
Maar dit was meer as ‘n spanpoging waarin niemand die span gedrop het nie.
Die Pumas kon netsowel deurdring, so was alles op ‘n mespunt gebalanseer. Croy is ‘n wedstrydwenner, maar hulle het meer foute begaan en dit en fiksheid het hulle waarskynlik ‘n plek in die kwarteindronde gekos.
Punte:
Luiperds: Drieë: Bom Samaai (2), Deon Scholtz. Strafdoele: Cecil Dumont (5). Skepdoel: Dumont.
Pumas: Drieë: Braam Pretorius, Jaco Bouwer. Doelskoppe: Ricardo Croy (2). Strafdoele: Croy (4). Skepdoel: Croy. |