2010-3-12
Klein Jakkalsies kos Leeus
Drew Mitchell score teen Leeus

Geen span wat 74-12 verloor is die naam Leeus waardig nie. Eerder Hiënas, Jakkalse of Meerkatte. Want ‘n trop Leeus sou meer weerstand gebied het as Baywatch Grobbelaar se span in hul nederlaag in Sydney teen die Waratahs.

Ya-well-no-fine, Dick Muir is ‘n goeie coach. Yes, en hy is ‘n voorstander van hardlooprugby. Dit klink alles mooi.

Dan het het hy ‘n trop Leeus nodig. Nie ‘has-beens’ en ‘will never be’s’ met ‘n Leeukenteken op hul bors nie.

Want, kom ons wees maar eerlik, dié spelers wat tans in Doer Onder toer, kan nie hondhaaraf maak teen die menere in die Super 14 nie.

Dan haal Muir nog vir Carlos Spencer af (toegegee King Carlos het weliswaar al geabdikeer), maar dan vervang hy hom met Burton Francis.

Francis sal goed doen om Vodacomrugby te speel. Dis waar die meeste  van dié Leeuspan hoort.

Ellispark se rugbybase moet hul beursies vinnig oopmaak en sterre koop, nie gemiddelde spelers wat ook elders nie die mas opkom nie.

Drew Mitchell het die eerste Waratah geword om vier drieë in Super-rugby te druk en hy, Lachlan Turner en die ander ‘Tahs het soms verspotmaklik deurgehardloop.

Dit is die tweede 70-tal wat die Leeus vanjaar afstaan, en dié keer met al die teenstanders op die veld is hulle nie toegelaat om weer ‘n klomp drieë op ‘n skinkbord te kry nie.

Dit kan nog ‘n lang toer word met die Crusaders wat aanstaande naweek wag.

Punte:

Waratahs: Drieë: Drew Mitchell (4), Josh Holmes (2), Lachlan Turner (2), Wycliff Palu, Tom Carter, Dean Mumm, Doelskoppe: Berrick Barnes (9).

Leeus: Drieë: Tonderai Chavangha, JC Janse van Rensburg. Doelskop: Burton Francis.