2010-4-9
Luiperds Buckle voor Griekwas
Ligtoring Landman lynstaan.JPG

Die Griekwas het die Platinum Luiperds Vrydagmiddag in Kimberley in die AR Abass-stadion ‘n rugbyles geleer en agt driee in hul sege van 51-21 gedruk. Dit was die Griekwas se sesde agtereenvolgende sege in die Vodacomkompetisie oor die Luipies.

Drie Griekwas, die kaptein Albertus Buckle, Dewald Pretorius en Leon Karemaker, het elkeen twee driee gedruk.

Die besoekers het uit die staanspoort stadig en lusteloos gelyk terwyl die Griekwas vol energie was en die kaptein Albertus Buckle het sommer in die eerste vyf minute oorgeduik vir sy span se eerste drie na ‘n hoekskoppie deur die senter Rocco Jansen. Bjorn Basson het mooi gevang, Dewald Pretorius het hanteer en Buckle het afgerond.

Dawie Theron se troepe het alle afdelings van die spel oorheers en in die eerste halfuur het die skeidsregter Tiaan Jonker die Luiperds erg in die skrums gestraf. Toe Philip Lemmer binne die eerste 35 minute opgestuur is om Os van der Walt te vervang, het die skrums vir die res van die dag stewig gestaan.

Die Griekwas se jong Logan Basson, Bjorn se jonger boetie, wat sy buiging vir die Kimberliete gemaak het, was ‘n vars briesie. Sy rietskraal lyf is vol rugby en wanneer hy bietjie vleis bykry, gaan hy nog ver kom.
 
Die Luiperds se eerste drie is deur Russell Jeacocks gedruk kort nadat Japie Nel oorgebeur maar opgehou is. Van die skrum af is die bal vinnig gespeel en Jeacocks kon gaan druk.

Die spanne het halftyd gaan rus met die telling 22-7.

Die Griekwas het net soos in die eerste helfte in die eerste vyf minute van die tweede helfte weer agter die doellyn gaan kuier toe groot vleuel Dewald Pretorius na ‘n mooi lopie teen die kantlyn af gaan druk het.

In die laaste 20 minute, toe die Luiperds hul beste span op die veld gehad het, het Griekwas dinge laat lostorring en toe het eers Ligtoring Landman, sy eerste ooit vir die Luiperds, en toe Jovan Bowles gaan druk. Bowles het die bal onseremonieel uit Zahier Ryland se hande gepluk en 40 meter genael vir sy drie sonder dat iemand aan hom geraak het.

Punte:

Griekwas: Drieë: Dewald Pretorius (2), Albertus Buckle (2), Leon Karemaker (2), Bjorn Basson, Simon Westraad. Doelskoppe: Logan Basson (4). Strafdoel: Basson.

Luiperds: Drieë Russell Jeacocks, Ligtoring Landman, Jovan Bowles. Doelskoppe: Jean Tiedt (2).