2010-7-5
Luipie word Luiperd
Victor Joubert in Arende-kleure Foto: Packpagepics

Die Bolandse vleuel Deon Scholtz en Arende flank Victor Joubert maak Vrydagaand in Rustenburg hul Curriebekerbuiging vir die Luiperds teen die Leeus.

Joubert is ‘n voormalige Luiperds Laerskole Cravenweekkaptein en het die Arende verlede jaar aangevoer. Hy is as baljagter saam met die kaptein Palm Koch en die agtsteman RW Kember ingesluit.

Die groot Namibiër Aranos Coetzee en Kempie Rautenbach – albei Puk-produkte - speel hul eerste eersterangse wedstryde. Coetzee is ‘n blok van ‘n vaskop wat bykans 130kg weeg en al 220kg gebench het.

Die keuse om die Luiperds se skrum te anker het op die Springbokstoeier Philip Lemmer geval. Hy sak saam met Gavin Williamson en Divan Kotzé in die Luiperds se voorry.

Russell Jeacocks, wat ook as binnesenter oorweeg is, is uiteindelik as heelagter gekies met Neill Jacobs in die nommer 12-trui langs die losskakel Cecil Dumond.

Die skrumskakel Michael Bondesio en die vleuel Deon Scholtz is die Luiperds se vernaamste aanvalswapens. Dit was blykbaar hittete of Clayton Durand is fiks verklaar vir die stryd.

Die slot Draad Linde is ook in die groep ingesluit nadat hy van ‘n enkelbesering herstel het.

Luiperds vs. Leeus: Russell Jeacocks; Deon Scholtz, Jovan Bowles, Neill Jacobs, Dumisani Matyeshana; Cecil Dumont, Michael Bondesio; RW Kember, Wilhelm Koch ©, Victor Joubert, Anthonie Gronum, Ligtoring Landman, Philip Lemmer, Gavin Williamson, Divan Kotzé. Reserwes: Pellow van der Westhuizen, Aranos Coetzee, Draad Linde, Riaan Swanepoel, Jean Tiedt, Kempie Rautenbach, Danie Dames.