2010-2-1
 Dumisani matyeshana 2 Die Bolander Deon Scholtz en die Bulldog Dumisane Matyeshana maak albei Vrydagaand in Witbank hul buiging in die Luiperds se beginspan wanneer hulle die Leeus aandurf.
Die Luiperds het 13 van verlede jaar se staatmakers vir die wedstryd gekies met Wilhelm Koch wat die span weer van die kant van die skrum af sal aanvoer.
Twee van die beseerde staatmakers, die skrumskakel Michael Bondesio en die slot Draad Linde word onderskeidelik deur Jean Tiedt en Antonie Gronum vervang.
Die binnesenter Basil de Doncker sal van die bank af begin nadat hy nie Vrydag se oefening kon bywoon nie en Japie Nel kry derhalwe weer ‘n kans.
Die nommer-ses-trui word aan Christo van Niekerk toevertrou en Koch speel oopkantflank met Riaan Swanepoel op agt. RW Kember, die afgelope twee jaar een van die staatmakers, begin van die bank af.
‘n Heelwat slanker Ligtoring Landman sal egter op slot uitdraf en nie op sewe flank waar die Leeu-afrigter Dick Muir hom graag wil sien nie.
Scholtz se groot wiele het sy neus voor dié van nog ‘n aanwins Gharfoer Luckan gekry en met Bom Samaai wat in skitterende vorm is, gaan die vleuels mekaar opkeil.
Matyeshana en Jovan Bowles is vanjaar die voorste buitesenters.
Langtermynbeseerdes soos Bondesio, Linde en Bernd Theissinger sal eers weer vir die Curriebekerreeks oorweeg word.
Die heelagter Russell Jeacocks het las van ‘n ligte besering en is ook nie oorweeg nie.
Luiperds vs. Leeus: Jan van Zyl; Deon Scholtz, Dumisane Matyeshana, Japie Nel, Bom Samaai; Clayton Durandt, Jean Tiedt; Riaan Swanepoel, Wilhelm Koch ©, Christo van Niekerk, Antonie Gronum, Ligtoring Landman, Os van der Walt, Gavin Williamson, Divan Kotzé.
|