2010-2-15
 DUMI Die Platinum Luiperds het hul vriendskaplike wedstryd Vrydagaand in Witbank teen die Pumas 18-17 gewen en die finale Vodacomspan begin vorm aanneem.
Terwyl die twee spoedvrate Deon Scholtz en Jan van Zyl weer, soos verlede week teen die Leeus, agter die doellyn gaan kuier het, het ten minste drie drieë volgens afrigter Chaka Willemse verlore gegaan.
Die Luiperds het in die tweede helfte, toe die Pumas hul sterkste span op die veld gesit het, by vier geleenthede verkies om nie pale toe te skop nie en eerder lynstane te oefen. Dit was veral die vaste fasette wat die groot breier breed laat glimlag.
“Ons het goed geskrum, die lynstane het baie goed verloop en in teenstelling met verlede week het die losvoorspelers baie sterker vertoon. Ek dink dit was ‘n 10% verbetering op verlede week se vertoning teen die Leeus en ’n 15% verbetering op ons verdediging,” was Willemse se mening.
Die Pukke se Tiaan Dorfling het sowat 10 minute gekry – omdat hy pas teruggekeer het van ‘n besering – terwyl Dauw Steyn ook saamgery het en sowat 20 minute gespeel het nadat Marcel du Toit ‘n stamp gekry het en as voorsorg afgehaal is.
Steyn het beindruk met sy organisering van die agterlyn op losskakel en sy groot skopvoet het ook aandag getrek.
Die Luiperds se beseerdes – Michael Bondesio en Clayton Durand – vorder goed en behoort slaggereed te wees vir die eerste Vodacombeker-wedstryd op 27 Februarie teen die Leeus in die Johannesburg-stadion.
Punte:
Luiperds: Drieë: Deon Scholtz, Jan van Zyl. Doelskop: Marcel du Toit. Strafdoele: Du Toit, Dauw Steyn.
|