2010-2-11
 Tiaan Dorfling Luipies Die beserings maai onder die Platinum Luiperds met die skakelpaar Clayton Durand en Jean Tiedt altwee beseer. Hulle sal Vrydagaand se vriendskaplike wedstryd teen die Pumas in Witbank van die kantlyn af dophou.
Durand het verlede week teen die Leeus ‘n ligament in sy knie beseer. Dit is ‘n soortgelyke besering as dié wat Louis Ludik opgedoen het toe ‘n speler teen sy uitgestrekte been vasgeduik het, maar in ‘n veel ligter graad. Die Luiperds sal Vrydagaand net een erkende losskakel, Marcel du Toit, teen die Pumas inspan.
Du Toit is die seun van die voormalige Vrystaatsenter Pikkie du Toit en broer van die Cheetahs se biokintikus, Pikkie Junior.
Theo van Wyk sal Tiedt se plek agter die oond inneem. Dan het die slot Ligtoring Landman ook verlede week seergekry maar sal waarskynlik op die bank ingesluit word. Sy plek word deur Gys Briedenhann ingeneem.
Die nuweling Danie Crous het pas in Potchefstroom aangekom maar word reeds Vrydag ingespan. Hy sal ook van die bank af kans kry.
En dan is Jovan Bowles terug van besering af en sal Dumisani Matyeshana se plek op senter inneem met laasgenoemde wat uitskuif vleuel toe in Gharfoer Luckan se plek.
Albei spanne sal ‘n groot groep gebruik en gereëlde veranderings tydens die wedstryd maak.
Die Onder 21-Puk Tiaan Dorfling gaan ook saam as bystand op skrumskakel hoewel hy self pas terug is van ‘n besering en net sowat 20 minute ingespan sal word. Die ander Puk Johannes Seerane sal ook weer saamry Witbank toe.
Luiperds vs. Pumas: Jan van Zyl; Deon Scholtz, Jovan Bowles, Japie Nel, Dumisani Matyeshana; Marcel du Toit, Theo van Wyk; Riaan Swanepoel, Palm Koch ©, Christo van Niekerk, Anthonie Gronum, Gys Briedenhann, Os van der Walt, Gavin Williamson, Divan Kotze. |