2010-4-29
May kom vroeg vir Luiperds
Die nuwe groot Luiperd André May - Foto: Annemie Bester

Mei het Donderdagaand twee dae vroeg vir die Luiperds aangebreek toe die 45-jarige oud-Wes-Transvaalse slot en kaptein, André May, as James Stoffberg se opvolger gekies is.

May is onbestrede verkies nadat Arthur Breakfast hom kort na oggendete aan die verkiesingstryd onttrek het.

May is ‘n gesiene inwoner in Potchefstroom waar hy as advokaat praktiseer en het met sy verkiesing gesê dit is vir hom ‘n geweldige groot eer om die Luiperds vorentoe te vat.

Hy het die destydse Wes-Transvaal van 1985 tot 1990 in sowat 75 wedstryde verteenwoordig waarvan amper ‘n handvol as kaptein was.

Hy is reeds sedert 1983 ‘n Potchefstromer nadat hy eers “BA Rugby” aan die Puk gestudeer het voordat  hy hom tot Internasionale Politiek en later die Regte gewen het.

Voordat hy ‘n Wes-Transvaler geword het, het May die Transvaalse Hoërskoolspan uit die Hoërskool Driehoek in Vanderbijl verteenwoordig.

Met sy verkiesing hervat May en die Unie se Hoofbestuurder, dr Eugene Hare, ‘n jarelange vennootskap wat as spanmaats vir die Mielieboere begin het waar Hare meestal sy kaptein was.