2010-7-8
Namibiese Tenk
Aranos Coetzee, Attie Strauss en BG Uys Foto: Annemie Bester

Toe Namibië in 1990 hul onafhanklikheid gekry het, het die Suid-Afrikaanse Weermag hul troepe onttrek, maar ’n reuse flater begaan: Hulle het ’n tenk agter gelaat, ’n 128kg-, 1,87m-masjien wat 200kg bo sy bors uitstoot.

Aranos Coetzee hou Vrydagaand die Luiperds se bank vir hul eerste Curriebeker-wedstryd van die seisoen warm en, sou sy dienste benodig word, sal hy sy provinsiale buiging maak na hy nog vroeër vanjaar vir die NWU-Pukke in die Varsitybeker uitgedraf het.

“Ek is bitter opgewonde. Om in die 22-tal te wees is ’n groot eer.”

Aranos is van ’n klein dorpie 160km van Mariëntal in Namibië en dis van waar die Luiperds se 22-jarige vaskop sy naam vandaan gekry het.

Sy ouers boer op ’n plaas ongeveer 80km buite Aranos.

“In die rooisand-duine tussen niks en nêrens.”
 
“Ons boer daar vandat ek kan onthou,” vertel hy. Dis ook daar waar sy liefde vir rugby gekweek is.
 
“Op die plaas het jy altyd ’n rugbybal in die hand gehad. Dit kom ook van my ouers en my oupa af,” verduidelik die saggesproke kragreus.

“Die lekkerste was om op Stampriet te gaan speel, so 70km vanaf Aranos. Dis ’n klein veld met net sand wat voor die tyd omgeploeg was om die ernstige groot klippe uit te haal.”

Aranos is ’n kind van die Kalahari.

“Ek mis dit verskriklik, dis my plek daai.”

Hy het by Boland Landbou gematrikuleer na hy van dié skool by hul buurman gehoor het.

“Ek hou van klein plekke, die platteland. By Landbou het ek tennis, krieket, als gedoen. Vir prakties het ons sommer ’n hoendertjie gegryp en geslag.

“Ek het flank, slot en agtsteman gespeel toe ek maerder en vinniger was, maar van matriek af het ek net vaskop gespeel.”

Na skool was hy vir ’n jaar na die WP se Rugbyinstituut.

“Oom Attie het my daar gebel om te hoor of ek nie Puk toe wil kom nie.”

Oom Attie is Strauss, Boland Landbou se eerste Springbok en die NWU-Pukke se skrumdokter.
 
Dis ’n aanbod wat hy gretig en met welslae aangegryp het.

“Die Puk is bekend daarvoor dat hulle die beste afrigting het, so dit was nie ’n moeilike keuse nie.”

Wanneer daar nie rugby gespeel word nie is dit koffie drink en fliek kyk saam met Minette Fourie. “My Stellenbosch meisie.”

Dan is daar sy boesemvriend, BG Uys, die Luiperds se loskopstut.

“Hy was in Paarl Gimnasium so ons het op skool baie teen mekaar gespeel. Ons het in Soetdorings op die Puk saamgebly, ek was in my eerste jaar en hy in sy tweede jaar. Hy het my baie gehelp om my voete te vind.”

Vir die Puk het hulle voorrrye laat les op sê en nou word dié vennootskap op provinsiale vlak voortgesit.  

“Ek hou nie van uitgaan en kuier met ’n klomp mense om my nie. Ek is eintlik ’n skaam ou, baie mense pla my.”

’n Skare het die teenoorgestelde effek. “Dit is anders, dit motiveer jou en kry die beste uit jou.”

Op die jagveld of by die viswaters dan is hy in sy element.

“Dis altyd lekker om ’n Springbokkie of twee plat te trek en ek is mal oor seevisvang, haaivang om presies te wees.”

Die Luiperds speel op 13 Augustus teen die Haaie in Phokeng. Dalk kry hy dan die kans om weer ‘n lyn in te gooi.