2010-6-29
 casper Badenhorst Luiperds vs Natal Die Natallers het Dinsdag in Welkom op die tweede dag van die Cravenweek vir Hoërskole sy stem dik gemaak en ‘n uitdaging aan die WP gerig met ‘n oortuigende sege van 33-12 oor die Luiperds.
Die Natallers het vaardighede, krag en vaart ten toon gestel en die Luiperds in alle afdelings van die spel oorheers.
Veral die statistiek in die tweede helfte het die volle verhaal vertel van Natal se oorheersing: 70% besit en net twee verbroude têkkels teenoor die Luiperds se 28% en nege mistêkkels.
Die Sharks het hul eerste drie gedruk nadat hulle diep uit hul eie halfgebied aangeval het en die Luiperds laat skarrel voor die vleuel Mbembe Payi die eerste drie van die wedstryd kon druk.
Vir die Luiperds het Pieter Bornman kort voor halftyd gedruk nadat hulle ‘n tikskoppie naby aan die doellyn gegee het en die klein buks in die hoekie oorgestuur is.
Die spanne het op 19-7 gaan rus en die Natallers het kort na rustyd die telling na 26-7 opgeskuif toe Meyrick Walker gedruk het en dit verdoel is.
Die Luiperds het tot hul krediet nooit ophou probeer nie hoewel hulle dinge baie staties en een-een wou doen. Hul deursettingsvermoë het vrugte afgewerp toe die groot stut Bees Strydom oorgebeur het vir sy span se tweede drie na nog ‘n vinnige tikskoppe naby die teenstanders se doellyn.
‘n Drie deur die blondekopflank Patrick Howard het die Sharks se punte opgeskuif na 33.
Die Natalse losskakel Duncan Campbell was die groot ster met 18 punte en ‘n stewel wat die Luiperds ongenadiglik gestraf het.
Punte:
Sharks: Drieë: Mbembe Payi, Meyrick Walker, Patrick Howard. Doelskoppe: Duncan Campbell (3). Strafdoele: Campbell (4).
Luiperds: Drieë: Pieter Bornman, Lourens Strydom. Doelskop: Divan Visser. |