2010-7-24
 Spanner Pretorius teen Raiders - Foto: Etienne Burger Die NWU-Pukke het Savvas Nel Saterdagaand in Potchefstroom geluk gewens met sy verjaardag deur agt drieë teenoor vyf in hul oorwinning van 53-37 oor Raiders te druk.
Hoewel die Puk eerste op die telbord was deur ’n drie van Spanner Pretorius, het Raiders se Anvor Schooney en JP Joubert die Studente met ’n drie elk ’n oomblik of wat laat bloos voordat Willem Barnard, Dirco Rautenbach en Ruan Jacobs die Puk halftyd 36-19 laat voorloop het.
Rautenbach het sy dertiende drie sedert die Varsitybeker gedruk, twee daarvan Saterdag, terwyl Pretorius op agtsteman ’n haas onverbeterlike vertoning gelewer het.
Hy was ongetwyfeld die beste speler op die Fanie du Toit-sportterrein en het met sy inklimspel sowel as die meters wat hy met die bal in die hand gemaak het, beïndruk.
Toe Siya Mdaka net na halftyd oorduik het dit gelyk of Raiders ’n behoorlike loesing te lyf gaan loop, maar die Puk moes sweet vir hul volgende punte.
Anvor Schooney se daaropvolgende strafdoel was deur Worsie Kotze se skitterende solopoging uitgekanselleer, maar Earl Rose en Harold Primo het ondersteuners ’n opskudding laat snuif deur die Puk se voorsprong tot 48-37 te laat krimp.
Met al wat Raiders-ondersteuner besig om hul span aan te spoor en twee spanne lus vir rugby, lus vir hardloop, was die geesdrif tasbaar voor PJ van Zyl in die doodsnikke sy span se sewende telling van vyftig of meer op die telbord gesit het.
Wat gaan staan en maak Raiders toe?
Met speeltyd verstreke en die telling lankal buite hul bereik gaan staan en boe die skare luidkeels vir Puk wat aanlê pale toe. Was dit nodig?
Die eindtelling sê dit was irrelevant.
Punte:
Pukke: Drieë: Dirco Rautenbach (2), Spanner Pretorius, Ruan Jacobs, Gerhard Nortier, Siya Mdaka, Worsie Kotze, PJ van Zyl. Doelskoppe: Willem Barnard (3), Ruan Jacobs.
Raiders: Drieë: Anvor Schooney, JP Joubert, Johan Jackson, Earl Rose, Harold Primo. Doelskoppe: Schooney (3). Strafdoele: Schooney. |