2010-7-12
 Wikus Nel hang aan 'n teenstander - Foto: Chris de Vos Die FSS Kempton Wolwe het Saterdagmiddag op Hans Moore se veld teen Benoni, wat hul 24-20 getroef het, hul vierde agtereenvolgende nederlaag gely.
Dis ’n wedstryd wat Benoni verdien het om te wen. Die Wolwe het die láng aangeë wat nie hande kon vind nie, heeltemal oordoen. Te veel bewegings het so skipbreuk gely en te veel spelers het op hul eie gespeel. Het hulle dalk vergeet daar is 15 spelers in ’n span?
Die skeidsregter het ook nie ’n tekort aan kaarte gehad nie en Wian van Wyk en Wayne Havenga en drie van Benoni se spelers is koelkas toe gestuur.
Voorlangs het Benoni die Wolwe behoorlik aangevat en alles gedoen om die wedstryd se pas so stadig as moonlik te maak. Hulle het deeglik besef dat hulle die wedstryd voor in hul guns sou kon beklink en het uitstekend daarin geslaag om die plan uit te voer.
Martin Lombard, Cliffie Viljoen, Wayne Havenga en Janus van Rhyn het hard probeer, maar dan het die agterlyn met swak hanteerwerk verbrou.
Werner Breytenbach het op heelagter baie goed gedoen. Hy was veilig onder die hoë bal en op verdediging. Wikus Nel was gevaarlik met die bal onder die arm en ongelukkig om nie nog ‘n drie of twee aan te teken nie.
Benoni het die eerste drie gedruk na vyf minute se spel, waarna losskakel Mossie Mostert met ‘n mooi onderskep-poging druk.
Benoni het die bordjies egter verhang met ‘n strafskop en verdoelde drie om die gaping tot 15-7 te rek voor Cliffie Viljoen vir die Wolwe gedruk het. ’n Strafdoel deur Nico Visagie het die halftydtelling gelyk getrek.
In die tweede helfte het Nel na een van sy kraglopies agter die doellyn gaan kuier en ná nog ‘n Benoni-drie was dit 20-elk tot kort voor die einde.
Benoni het egter die knoop deurgehak na swak verdediging deur die Wolwe.
Martin Lombard was as Speler van die Wedstryd aangewys.
Punte:
Wolwe: Drieë: Mossie Mostert, Cliffie Viljoen, Wikus Nel. Doelskop: Nico Visagie. Strafdoel: Nico Visagie. |