2010-3-13
Stormers se Puk-resep
Sireli Naqelevuki vat Rodney So'oialo vas - Foto: Backpagepix

Die hand van die oud Puk-afrigter Matthew Proudfoot was Saterdag op Nuweland weer duidelik te sien in die Stormers se oorwinning van 37-13 teen die Hurricanes. Die oud Skotse en Bulls-stut se filosofie van ondeurdringbare verdediging en skitterende dryfwerk was weer die hoekstene van die Stormers-oorwinning.

Die Stormers het Saterdag twee keer meer drieë – twee – as die res van die seisoen afgestaan en hul doellyn is tot dusver in vyf wedstryde net vier keer oorgesteek.

Dit was die hoekstene van Proudfoot se Puk-resep wat van dié studente eens die top klubspan in die land gemaak het. Die Stormers se verdediging is die beste in die kompetisie.

Die Bulls het byvoorbeeld al 15 drieë deurgelaat (in net vier wedstryde)  en die Leeus ‘n allemintige 29. Soos Uli Schmidt altyd gesê het: “Attack wins games, defence wins tournaments.” Saterdag was die Stormers weer amper ondeurdringbaar terwyl hulle die Hurricanes op reëlmaat meters teruggedryf het.

Terwyl sake nie heeltemal seepglad in die voorry verloop het nie, is die Kapenaars se skrums vanjaar myle beter as in jare en weereens is dit die oud-Pukke Baba Blaauw, Brock Harris en Tiaan Liebenberg.

Om ‘n uitblinker in hierdie vertoning uit te sonder, is moeilik maar min slotte lewer spel van so ‘n hoë gehalte as Andries Bekker. Hy tekkel, jol met die bal, verdedig selfs op die punte, en o ja, hy is ‘n derduiwel in die lynstane.

Sireli Naqelevuki was een van die uitstaanspelers en sy drie in die agtste minuut was ‘n toonbeeld van sy krag en vasberadenheid. Sy skakeling met Joe Pietersen was ‘n fees om te aanskou – hulle slaag telkens daarin om die bal uit tekkelsituasies in die broodmandjie te plaas en teen dié tyd het die Kapenaars hopelik dié groot vleuel sy blaps in die halfeindstryd van die Curriebeker vergeef.

Die Stormers het regdeur die wedstryd in die Hurricanes se kwartgebied gekuier – eintlik tentopgeslaan en van die magtige ‘Canes was min te sien. Nie een van die groot All Black name soos Ma’a Nonu, Rodney So’ialo of Neemia Tialata het enige impak gemaak nie, wat hul frustrasievlakke opgejaag het en tot strafskoppe gelei het.

Duane Vermeulen, Pietersen, Brock Harris en Jaque Fourie het elk ‘n beurt gehad om te gaan druk en hierdie Stormers-span het soveel sterre dat dit moeilik is om te dink hulle geklop kan word.

Punte:

Stormers: Drieë: Sireli Naqelevuki, Duane Vermeulen, Joe Pietersen, Brock Harris, Jaque Fourie. Doelskoppe: Pietersen (3). Strafdoele: Pietersen (2).

Hurricanes: Drieë: David Smith, Tyson Keats. Strafdoel: Willie Ripia.