2010-2-9
 Titch Cartwright 004 Sê die naam Tidge Martin Cartwright en mense kyk jou skeef aan, maar roep hom sommer Titch en die herkenning is duidelik: Die kort mannetjie wat vir 15 jaar in Potch Boys High se gange rondgeloop het met ‘n kierie in die hand en ‘n rustige glimlag op die gesig.
Cartwright is pas aangestel as die Luiperd Rugbyunie se Bestuurder: Opleiding en Ontwikkeling en na ses maande as afgetrede skoolhoof moet hy die gemak van middagslapies inboet vir ‘n voltydse werk op kantoor.
Maar soos almal wat hom ken weet, is Titch ‘n ander kalant en hy het klaar met sy nuwe werkgewer ‘onderhandel’ dat hy die naweek nie beskikbaar is vir werk nie aangesien hy die Midmar-myl gaan swem. Hy sien in elk geval nie sy werk van opleiding en ontwikkeling as ‘n ‘8 tot 5-kantoorjoppie’ nie! En ja, hy oefen nog daagliks – op die pad en in die swembad. Hy spog immers met Springbokkleure in tweekamp.
“In ‘n jaar wat die Sokker Wêreldbeker aan is, het ons ‘n groot taak om swart kinders te oortuig om rugby te speel. Ons moet eerstens ouers oortuig dat dit ‘n veilige sport is. Ons moet onthou dat hulle nie rugby van kleins af gespeel het nie en hulle besef nie dat die mens se liggaam wél al die stampe en stote van rugby kan hanteer nie,” verduidelik hy stadig en geduldig soos net ‘n onderwyser kan.
Rugby loop soos ‘n goue draad deur Titch se lewe vandat hy in die destydse Rhodesië gebore is en grootgeword het, sy tyd as onderwyser in Suid-Afrika, eers in Nelspruit, later Pietersburg en uiteindelik Boys High in Potch. En altyd was rugby daar – eers as speler, later as onderwyser en afrigter regdeur sy loopbaan.
Sy vriende het hy deur rugby gemaak en so die sosiale aspek van die sport besef. “Klubs loop dood, want die vroue en kinders is nie meer deel daarvan nie. Ons het destyds klaar gespeel en dan het die vrouens kos gebring, later het ons gedans. Is daar nog moeite om die gesin by rugby te betrek? Ek wonder?
“Ons kweek ‘n nasie van rugbyondersteuners. Ons moet weer begin deelneem. Ouers moet die reëls van die spel verstaan. Daarby het moderne kinders lui geword – rekenaarspeletjies is net soveel minder moeite. Ek glo spansport bou karakter en as die grondslagfase reg gedoen word, is die liefde daar vir die res van sy lewe.”
En hy sal weet. Hy werk reeds die afgelope 15 jaar intensief met kinders – ook swart kinders wat uit ‘n tradisionele sokkeragtergrond kom. “Moenie sokker afkraak nie. Laat hulle speel. Hulle kan sokker en rugby in een seisoen speel. Hulle speel rugby in die winter en in die somer blink hulle uit in sokker. Dit is ook belangrik.”
Hy beplan om die dorpies in Noordwes te besoek waar rugby kwyn. “Bring ‘n bal en die kinders is daar. Sit ‘n paar kegels op ‘n oop stuk veld neer en hulle begin hardloop met die bal. Dit is op grondvlak waar my werk gaan begin en eindig. Ek is ‘n wit/swart outjie van Rhodesië – ons sal onder begin en ‘n liefde kweek vir ons spel,” mymer hy. |