2010-7-9
 Waylon Murray wens Vermaak geluk - Foto: Gallo Images Die Leeus het die Curriebekerreeks Vrydagaand in die Royal Bafokeng-stadion in Phokeng met ‘n oorwinning van 43-13 oor die Luiperds afgeskop, maar geensins die verbeelding aangegryp nie.
Twee drieë deur Jano Vermaak, een in elke helfte, was maar twee skote wat die Luiperds platgetrek het. Die ander sal die tuisspan se dissipline en hul stelskopwerk wees.
Die Luiperds het onder Lourens van der Merwe se fluitjie deurgeloop. In dieselfde asem was die Leeus nie Sondagskoolseuns nie, maar Cecil Dumond se korrel het vier keer skeefgetrek. Jean Tiedt het nie beter gedoen toe hy die stelskopwerk oorgeneem het nie.
Herkie Kruger het die Leeus se punte-oes met ’n strafdoel aan die rol gesit, kort daarna nog een oorgeklits voor Vermaak en toe Marius Delport die eerste twee van die Leeus se vyf drieë gedruk het.
Aanskoulik was die eerste 40-minute gewis nie, eerder deurspek met foute, belowende bewegings wat net beloftes gebly het en blêrende vuvuzelas wat die ore laat tuit het.
Waylon Murray het sy Rooibont-buiging met die eerste punte in die tweede-helfte gevier toe hy, met geen Luiperd in sig, afgerond het. Vermaak het daarna met ’n amperse kyk-weer van sy eerste drie ’n goeie vertoning onderstreep.
Deon Scholtz en Palm Koch het met ’n drie elk die Luiperds in dubbelsyfers gekry. Jaco Taute se drie in die doodsnikke beteken die Leeus wen met 30 onaanskoulike punte.
Punte:
Leeus: Drieë: Jano Vermaak (2), Marius Delport, Waylon Murray, Jaco Taute. Doelskoppe: Herkie Kruger (3). Strafdoele: Kruger (4).
Luiperds: Drieë: Deon Scholtz, Palm Koch. Strafdoel: Cecil Dumond. |