2010-3-15
 PJ Walters Aksie Upington het die naweek die lang pad Sutherland toe aangedruf – ‘n heen-en-weer trippie van bykans 1 400 kilometer – en 41-13 teen een van die Kaap se groot skole, Drosdy, verloor.
Sutherland is een van die koudste plekke in die land maar die ontvangs en atmosfeer op die besondere rugbydag was so warm soos wat dit maar net in die Karoo kan wees.
Met Carel du Plessis langs die veld en Boishaai van die Paarl ook in aksie was dit ‘n besondere dag vir die Uppies, al het dit nie so goed op die veld gegaan nie.
Drosdy, al die pad van Worcester af, speel teen die groot skole in die Kaap en die Uppies kon net nie al die gate toestop nie, hoewel hulle met tye baie mededingend was.
Twee strafdoele van PJ Walters het hulle vroeg 6-0 laat voorloop voordat Drosdy ‘n wegholdrie gedruk het – die eerste van vele.
Dit was egter ‘n goeie leerproses vir die jong Uppies en die ondervinding teen die Wynboere kan hulle in die volgende jaar of twee net sterker maak.
Punte:
Uppies: Drie: Drikus Burger. Doelskop: PJ Walters. Strafdoele: PJ Walters (2).
|