2010-3-12
Vyf-en-vyftig maal twee
Clayton Durand skop pale toe teen Leeus

Vat Vyftig Luiperds! Weer, vir die tweede agtereenvolgende naweek, maar wees gewaarsku - die paartie is verby na Vrydagaand se eensydige oorwinning van 59-8 oor die Valke.

Meer as ‘n honderd punte, 110 om presies te wees, in twee wedstryde is goeie voorbereiding vir die groot kanonne wat voorlê, maar alles is nie honkiedorie nie.

Bom Samaai het sy waarde as ‘n aanvaller in die laaste paar minute onderstreep deur twee driee binne minute te druk om die tweede vyftig in ‘n week aan te teken.

Die vlieënde Deon Scholtz het die aand met ‘n drie onder die pale afgesluit nadat Japie Nel van diep in sy gebied deurgehardloop het net om deur die flank Marco Kotze van agter ingekatrol te word.

Die eerste helfte was egter ‘n geploeter en van balle aanslaan en in kontak verloor moes Chaka Willemse sy regop-hare laat uittrek.

Daar was darem meer as ‘n paar ligpunte vir die ‘Perde. Die losskakel Clayton Durand lyk weer na die Ware Jakob en sy skopvoet het vir min verkeerd gestaan, nie net met sy 17 punte nie, maar sy laaang lynskoppe.

Durand het die eerste nege punte met drie strafdoele behaal toe die Luiperds op geen ander manier kon punte kry nie.

Die hoogtepunt van die eerste 40 minute was ‘n drie deur Dumisani Matyeshana na goeie samespel met Scholtz.

Die tweede helfte het egter ses driee aan Luiperdkant opgelewer en een vir die Valke se hardwerkende kaptein, Warren Perkins.

En toe Philip Lemmer selfvertroue begin kry het die Luiperds selfs ‘n strafdrie na ‘n meneer-skrum naby die Valke se doellyn gekry.

Die Valke kon in die laaste kwartier met Reg Muller in die middelveld nie al die gate toestop nie en Russell Jeacocks het hulle daarvoor gestraf, maar die Luipies kon nie elke keer afrond nie.

Punte:

Luiperds: Driee: Bom Samaai (2), Anthonie Gronum, Dumisane Matyeshana, Christo van Niekerk, Pellow van der Westhuizen, Deon Scholtz, Strafdrie. Doelskoppe: Clayton Durand (4), Cecil Dumont. Strafdoele: Clayton Durand (3).

Valke: Drie: Warren Perkins. Strafdoel: Deon Anderson.Strafdoele: Deon Anderson