2010-3-11
Williamson = Mnr. Bestendigheid
GAVIN WILLIAMSON 2 VS. SHARKS PHOKENG 2009

Die Luiperds se mnr. Bestendigheid vier Vrydagaand in Rustenburg sy eerste honderdtal en vir Gavin Williamson is dit ’n getuigskrif van deursettingsvermoë, van jou alles gee ’n honderd keer oor.

Vir die 26-jarige Williamson wat die Luiperds reeds 46 keer verteenwoordig het en verlede naweek sy eerste twee drieë in die Groen Trui gedruk het, is dié besondere mylpaal maar net die begin.

“Dit is ’n groot mylpaal, een tot ’n honderd is baie wedstryde, maar ek sal nóg ’n honderd wil speel,” sê Williamson.

Die oudleerling van die Hoërskool Outeniqua, wat die Suidwestelike Distrikte twee jaar agtereenvolgens by die Cravenweek verteenwoordig het, was maar net 18 jaar oud toe hy die Arende die eerste keer verteenwoordig het.

Sewe jaar en 99 eersterangse wedstryde later is daar nog geen sprake van halt roep nie.

“Rugby is in my bloed. By die skool se voorligtingsaande het hulle ons gevra wat ons wil word en ek het altyd gesê ek wil rugby speel. Ek het van kleins af begin, eers as ’n voorry en toe van standerd 6 af net haker.”

Dit het soos ’n handskoen gepas.

“Ek dink haker is een van die mees uitdagendste posisies. Jy moet soos ’n losvoorspeler speel, jou ingooiwerk moet akkuraat wees en jy moet goed skrum. Dit vereis nie net fiksheid nie, maar ook baie konsentrasie”     

Na hy naam by die Arende gemaak het en in 40 wedstryde gespeel het, het hy die destydse doodgebore Southern Spears verteenwoordig voordat hy groener weivelde in Potchefstroom gesoek het. 

In 2006 verteenwoordig hy eers die Puk en later die jaar die Luiperds. Na afloop van die 2007 Vodacombeker slaan hy ‘n Leeukontrak los vir die Curriebekerreeks en in 2008 draf hy in twee Super14-wedstryde uit.

Dis maar een van vele hoogtepunte.

“In my eerste Super14-wedstryd teen die Blues was my regstreekse teenstander die All Black Keven Mealamu, so dit was ’n groot oomblik.

“Om vir die Spears te speel, was ook ’n hoogtepunt. Daar was groot planne vir die Spears, maar dit het ongelukkig nie uitgewerk nie.

“Toe die Luiperds tot die Curriebeker gepromoveer word, was dit baie spesiaal. Ons het die vrugte gepluk van ons harde werk. Die gees in daardie span was net ongelooflik.”

As sy mees gedugte teenstanders lys hy die Sharks se John Smit en BJ Botha teen wie hy as jong speler kragte gemeet het.

“Ek was so 21 of 22 en as ’n eenheid het hulle ’n groot indruk gemaak.”

Met 99 wedstryde op sy kerfstok is dit ’n loopbaan wat ook as leerskool gedien het.

“Die belangrikste wat ek geleer het, is dat die lewe op en af gaan, dit het sy hoogte- en laagtepunte. Dit is hoe jy dit hanteer wat saak maak. Net soos jy dink jy is op die kruin van die golf verander dit weer. Rugby hou jou voete op die grond.”

Benewens sy verpligtinge op die veld word daar ook pa gespeel vir sy en vrou Leandri se 18-maande oue Scott. Gaan hy in pa se voetspore volg?

Hy lag: “Vir’n  een-en-‘n-halfjarige gooi hy die bal goed in. Hy’s reeds ’n regte klein haker! Daar is niks lekkerder as om by die huis te kom en tyd saam met my familie te spandeer nie.”

Vir sy honderdtal neem hy nie alleen krediet nie. “Alles gebeur danksy die Here se genade.